Click here to search
Back to top

ROAD TRIP: Leilani en Anzet in die Richtersveld





2 May 2012



Die pad Sendelingsdrif toe was ꞌn lang een – byna twee dae om presies te wees – beslis die langste road trip wat ek nou al non-stop ꞌn kajuit met ꞌn kollega moes deel.

Hierdie was ons eerste gesamentlike projek: Anzet die tegniese en kar chick en Leilani die travel en lifestyle chick – saam op een trip die gopse in om in rekord tyd die ins en outs van nog ꞌn Chinese take-away te gaan opsom. Ek op my ontegniese, deursnit-motoris en vroue manier en sy op haar tegnies korrekte, “kon-maar-net-sowel-een-van-die-ouens-gewees-het” manier. Want kyk, daar is niks wat ‘n man jou van ‘n kar kan vertel wat Anzet nie reeds weet of al lankal van vergeet het nie.

 

Fotografie: Leilani Basson en Anzet du Plessis

Want to see more stunning pics from the trip? View Leilani’s photoblog here.

Kyk nog kiekies! Hier is Leilani se foto-storie.

 

Nou ja, die oggend van ons vertrek kom die wit viertrekkie van die Oosblok toe daar oor die pavement aangepoerpoer by die kantoor. Darem is hy diesel.

“Delively. Delively. Flom Gleat wall motols. Delively.”

Okay, okay, dit was glad nie so nie, maar ek het die Fong Kong prentjie al soveel keer in my kop afgespeel ek moes dit net eenvoudig met julle deel. Great Wall Motors se Hover, wat al onder baie spot deurgeloop het as ‘n Hoover stofsuier, was ons mode of transport vir die lange tog woestyn toe. ‘n H5 noem hulle hom nou…met ‘n paar ander tegniese changes wat die avonturier in my nie te veel gaan pla nie. Al wat ek wou doen is om die ding te ry, want kyk, ek like van ry – veral die nikste in.  Die jargon oor wat hy reg of verkeerd doen sal ek later uitfigure of op ‘n meer motor-joeranlis manier probeer uitdruk.

Vanuit Anzet se Jeep en my Isuzu het sakke, pakke, coolerbokse, ‘n tent, ‘n bedrol en wie weet wat nog benoud gelê en wag vir die oorlaai die Hoover in. Ons moes die sitplekke vorentoe slaan om als in te pas. In ‘n japtrap was die take-away-boks-tjor tjok en blok. Dank vader dit was net die twee van ons, want kyk, ek travel nie lig nie. Daarvoor het ek ‘n veels te groot voorliefde vir keuses. En somehow kom daai ekstra baadjie, truitjie, toppie of plakkies altyd vreeslik handig in…veral vir die wat altyd spog hulle travel so lig, maar dan op my klerekas en paraphernalia moet steun in nood, koue of ander “ek het dit nou nie verwag nie” krisise.

Ons is so twaalf uur weg uit Jozi – gewapen met genoeg Monster energy drinks en MP3s om selfs die langste, sieldodendste pad in ‘n pieringoog plesier vol luistergenot te verander.

Darem het ons albei ‘n afwyking. Anzet wat foto’s vir die rekord neem met die dorpies waardeur sy travel se name op ‘n A4 papier geskryf met ‘n dik kokie, en ek met Kolle, my speelgoed Zebra wat die wereld saam my toer en selfs sy eie FB  page en albums het. So, ons stop baie. Ek met Kolle en Anzet met haar A4 papier.

Ongeveer 8 uur daai aand kom ons in Kuruman aangesuiker. Lelik wakker van al die Monsters maar styf en seergesit in die “styrofoam” sitplekke wat waarskynlik nie bedoel is vir so ‘n lang pad in een dag nie. Die Oude Werf Lodge is alte oulik en Werner, die handsome eienaar wag ons al hoeka in. Ons eet daai aand ‘n tamaai fillet en drink ‘n glasie huiswyn om ons eerste trip saam, sowel as die eerste been van ons tog te vier. Na al die Monsters kon ons nou nie ‘n bottel goeie wyn ook nog in die oë kyk nie – so ‘n upper en downer sal darem ‘n vreeslike geveg in ‘n vrou se binneste in die nanag van stapel stuur.

Werner was heel oppie bol en het ons getreat met twee van die beste, grootste en dikste Dom Pedros wat die manjifieke fillet perfek afgerond het. Nadat ons eers ons “merke” op ‘n hele rits Leisure Wheels tydskrifte op die toonbank aangebring het vir geslagte wat kom om te bevestig ons was hier wel hier was, is ons fort kamers toe – lieflik afgeronde plekkies met die mooiste beddegoed en handgeskilderde prentjies teen die muur. Die Kahlua in die Dom Pedros het gelukkig teen daai tyd al die Monster in ons mae getem.

Op Werner se aanbeveling val ons 04:30 die volgende oggend in die pad. “Padwerke en al die mense wat by die myne werk gaan julle vang,” het hy gemaan. Ook maar goed. Ons het goed tyd opgemaak vandaar af.

Die Hoover vorder goed. Met ‘n kussing vir die lae rug, ry hy sommer lekkerder. Die radio en cd sisteem is bietjie temperamenteel – soos dit enige Chinees wat sy sweet en sour sous werd is betaam – maar as jy nie te veel fiddle en liedjies wil skip nie, gedra hy vir hom heel skaflik. Op al die groot dorpe maak ons hom vol sodat Anzet die brandstof verbruik kan bepaal. Op Kakamas dwing die Pink Padstal ons eers virv ‘n wyle van die pad af. Dis darem te cute vir woorde – en hoe kan ons nou nie vir Kolle en die A4 papier daar laat afneem saam die pienk blikdonkies op die sypadjie en die mure vol nommerplate teen die mure nie.

Port Nolloth is nog ‘n groot foto stop. Man, dis ‘n lekker plek. Onopgesmuk en lieflik ongekomersialiseerd. Ons is soos twee chop sticks uit ‘n plastic wrapper by die kar uit om kaalpoot op die strand vir ‘n paar kiekies te pose. Dit was die vreemdste weer. Dik mis op die strand self het die skeepswrak in die agtergrond soos ‘n goeie spookstorie laat lyk. Ons neem ‘n paar lawwe foto’s, doen vir oulaas ‘n bietjie shopping by die local Spar en bel nog ‘n laaste keer die familie voor ons sein verloor.

Net anderkant Oranjemund waar ons die Oranjerivier in al sy glorie ontmoet, gaan ons eers weer bos met ‘n fotosessie. (Die keer van die kar – nie van Kolle en die A4 papier nie). Die pienk koeksister-gedraaide wolke maak die mooiste prentjie met die Hoover wat stofbolle in die vaal sand langs die Oranjerivier opskop. Maar ag, ons is mos nou naby Sendelingsdrif, dink ons, what the hell.  Ons gaan sommer nog bietjie bos.

By die Richtersveld Nasionale Park in, mis ons somehow die RSG toergroep, wat saam met Francois Rossouw al siek van beslommernis (en bekommernis) vir die twee meisiekinners wag. Ek meen, waar in jou lewe kom twee meisiekinners ook nou alleen Richtersveld toe in ‘n Chinese Take Away.

Ons ry vir ongeveer ‘n uur in die piknagdonkerte die Richtersveld plat – doen baanbrekerswerk wat die res van die konvooi die volgende dag in veilige daglig gaan verken. Toe ons eindelik teenaan die Oranjerivier is by ‘n kamp met die naam Potjiespram, weet ons ons is kind off in ons moere in verdwaal. Eie aan sulke horror-movie-moments, werk die selfoon nie en lyk alles skielik dieselfde. Die reuse witgatbome se wortels lyk wragtag baie eerie so in die nag en ons probeer so vinnig as moontlik verby die vreemde vlegsels in die kar se spotlights jaag om die visioen van grypende tentakels wat die Take Away Boks wil verwring en stadig maar seker te verorber uit ons koppe te kry. Die oordosis Monsters om net die oge en verstand fris en vars te hou op die langpad was nou in overdrive. Monster…bid jou dit aan…

Dank vader albei van ons is nie ewe nagblind of effe vertraag as dit kom by “back-tracking your steps” nie en Anzet kry ons in ‘n japtrap iewers – let wel iewers – terug naby die spot waar ons begin het. Of wel, dit lyk even vir nagblind ekke na die begin-plek. Ons skraap al ons moed bymekaar en vra ‘n paar drinkende skaduwees onder ‘n doringboom vir aanwysings vanuit die veiligheid van die voertuig – venster net genoeg afgerol om hom vinnig weer toe te maak, sou die gure figure te gierig nader kom…

“Goeie naand…ons is bietjie verdwaal….”

Hulle is alreeds ver heen en dis duidelik dat hulle nie lus is om aanwysings te gee nie. Ons ry maar in die rigting wat ons dink…en sommer oor ‘n sandsokkerveld ook. “Dolla, is jy seker ons het oor die sokkerveld gery die eerste keer?”

By n kasteel-tipe gebou spring ek uit. Erg geMonster en gehorror movie maak ek Anzet die kar omdraai met duidelike instruksies om in drive te bly met haar voet net-net op die pedaal. “As ek aangehol kom en skree, moet jy regwees om weg te jaag sodra ek inspring.”

Na ek my met moeite losgemaak het van die getaway car en ewe aan die vensters van die kasteelgeboutjie gaan hammer het – asof mense nou 9 uur op ‘n Donderdagnag op kantoor sal wees -  lui my Swartbessie sowaar. Ons het sein!!! Die mooiste geluid wat ek die laaste uur gehoor het. Dis Francois. Dank vader.  Ons is net 200 meter van hulle af weg.

In die kamp-area is almal al klaar geëet en opgewas. ‘n Paar lieftallige tannies kom spreek hule dankbaarheid uit vir ons veilige aankoms. Ons voel soos die verlore niggies wat na ‘n lang tyd weer vir die familie kom kuier het. Almal wil eers weet waar ons was, waarmee ons ry en hoe die Hoover homself gedra het. Met ons aankoms al begin die spottery van die Stofsuier. Die Hoover. Die meisiekinners in die stofsuier.

Oudergewoonte is dit die Wolmaransstad Outehuis mense wat die catering vir Francois doen. Gawe mense. Goeie mense. Hulle help ons tjop-tjop ons chopper tent opslaan. Nie ek of Anzet sien kans vir stort nie. More is nog ‘n dag. Ek try my bedrol uit en vir die eerste keer in ons lewens deel ons ‘n tent. Heimlik bid ek dat Tim Jan sy timing gaan ken en mooi gaan saamspeel op die trip.

Die buurtente begin al vroeg roer en geraasmaak. Ook maar goed – ek doen die sonder make-up-net-wakker-geword-ding nie meer so goed soos toe ek twintig was nie. Woerts warts en voor die lig te helder begin skyn is ons reg vir dag. Wolmaransstad help ons gou weer opslaan. Ontbyt is great en ons kom toe agter dat ons heelparty mense op die trippie ken. Ons deps sommer klaar ons bure van ‘n vorige Francois toer – die Landcruisers van Henley on Klip.

Toe Francois op sy gebruiklike bokhoring blaas, tree al die skapies (uitgekit in katoen khaki Toyate hemde) ewe gedwee aan om die Leviete vir die dag voorgelees te word. In true Francois style is daar eers ‘n grappie of ses te vertelle. Die ander toergangers word mooi vertel van die Leisure Wheels meisies in die Gleat Wall Motols stofsuiertjie wat tweede in die konfooi moet ry – meer uit vrees vir iets wat kan vekeerd gaan as vir fotogeleenthede, neem ons aan. Agter ons is dan die Jeep manne (sanger en aanbieder Gerrie Pretorius en sy pelle) wat ‘n film kom skiet oor die Richtersveld. Ons word ook voorgestel aan Seth Domrogh – die Richtersveld se lopende ensiklopedie wat vir die durasie van die toer reg langs Francois gaan sit om alles en wat nog te vertel van die plante, diere en wonders van die 162000 ha World Heritage Site.

En dan is dit sulke tyd – die konvooi van 22 karre van heinde en verre val in die pad agter Francois aan.  Die Richtersveld is meestal bergwoestyn suid van die Oranjerivier. Dit bied heerlike toets- en speelterrein vir enige 4×4 man (of meisie) wat hulle sout werd is! Oor woeste rotse, af op los klippe, deur droëe rivierlope en plek-plek selfs modder soos wat die ondergrondse fonteine opstoot en ‘n lafenissie vir die dorre wereld en die lewe in hom bied. Selfs op plekke waar die water nog nie opgestoot het nie, word die teenwoordigeheid van ondergrondse water aangedui deur ‘n spesiale biesie plant, wat net naby water voorkom.

Seth vertel in die mooiste Afrikaans dat kudu, gemsbok, springbok, dassie, silvervos, bakoorjakkals, volstlruise en luiperd hier voorkom. Later is ons gelukkig genoeg om ‘n hele trop gemsbokke te gewaar.

Ons leer van die endemiese plantsoorte van die Richtersveld, van rooi alwyne, groot kokerbome, woestynrose, groot witgat bome waarvan ‘n tipe koffie (“gat” is blykbaar die Hollandse woord vir koffie) gemaak is, besembosse en Hoodias wat die Namas maer en sonder eetlus hou. Ons proe aan soutslaai (‘n tipe vetplant propvol water), suig aan soetwurmbos waaroor die Namakwa sukierbekkies so gek is en word gewaarsku teen melkvingers wat ‘n groot man in japtrap na sy graf kan stuur.

Seth vertel poeties die legende van die Halfmense of Noordekyker. “Die eertydse Nama mense is oor die rivier weggedryf van hul tuiste. Wanneer hulle doodgaan, verander hulle in hierdie halfmensbome wat vir ewig na hulle eertydse tuiste in die Noorde van die land tuur…”

Plek-plek word gestop en foto’s geneem en skouer geskuur.  Oor die twee rigting radios leer mens ook sommer gou die trokke in die treintjie wat deur die woestynwereld kronkel se insittendes ken. Heel agter is altyd Gysbert van Frazerburg in sy Koringkriek, soos hy sy eertydse Land Cruiser noem. Daar is die Cordiers in hulle Cruiser, die Swart Renostertjie, die Pajeros, die nice Mazda mense, die Jimnys en Tant Hildegard in die Jeep wat heeltyd ‘n eiertjie oor alles te lê het.

Deurentyd is almal stomgeslaan deur die performance van die Stofsuier. Hy stuit vir niks en hou moeiteloos by die res van die meer, wel, Japanese – trop.  Nieteenstaande duur die spottery voort en word ons die volgende oggend by brekfis herdoop na die Koekblik “want daar’s dan net twee koekies in”, lag Francois al te lekker.

Hoë bome kry baie wind, en soos die tyd verbygaan, probeer al wat mens is die Chinees onderdruk. Van die Hoover tot die stofsuier, n die Koekblik en toe sommer die Deposit, “want al waarvoor die tjor goed is is ‘n deposit op ‘n Toyota,” probeer Francois ons keer. Maar die koekies in die koekblik, laat hulle nie sommer met hulle mors nie.

Toe dit uiteindelik tyd is vir sandry, raak dit tricky. Sonder low range en ‘n diff lock was dit sover kinderspeletjies, maar in die dik poeiersand is al wat gaan help, pap bande en baie voet.

Dis moeilik om te glo dat Francois nie met voorbedagte rade vir bietjie sports wou sorg met die Deposit nie, want maak nie saak hoeveel keer ons vra of ons gou kan bande afblaas nie, word ons verseker 2 bar is reg vir die sand. Goed op spoed en vol geloof en hoop in die Chinese Empire, dryf ons suksesvol deur die riviersand tot Francois skielik besluit om rem aan te slaan en van rigting te verander. Ek moes spoed verminder om die in hom vas te ry nie en sowaar, daar begin die moeilikheid. Daardie momentele vermindering van momentum, met die traction control wat inskop en dis verby. Daar sit ons toe – tot groot bravade van ons toerleie, wat darem – vir die rekord – ook nie die Deposit met al die skill in die wêreld uit die sand kon kry nie.

Ek het so goed gedoen…ai tog… die Koekie was erkennelik nog nooit so naby daaraan om vir iemand sy fortune te vertel nie.  Wel, toe stoot ons maar die Deposit uit die sandgraf. Tot my groot gerusstelling het al wat ‘n ware 4×4 is toe ook daar gaan vassit, maar soos dit maar is, het niks anders die spot- of vermaaklikheidswaarde van ‘n Chinese Take-away wat so ongrasieus soos ‘n vet rob uit die sand probeer spartel nie… Ai tog…

Die volgende dag is ons sommer net die Deposit wanneer daar oor of met ons gepraat word oor die radio, hoewel baie Tannies nog deurentyd vra hoe dit gaan met die meisietjies in die Stofsuiertjie. Ons ry Domroghpas uit – in 4×2 nogal – wat eintste Seth se familie eiehandig gebou het, klap ‘n toon na die bekende hoenderboudjies en ander bekende windverweerde rotse in die woestyn en neem foto’s dat die byle huil.  Ons sit nog een keer vas in kniediepte poeiersand en word ‘n paar kilometer gesleep deur ons helde – Gerrie en sy span – in die groen Jeep. Almal kry ‘n beurt vir vassit en uitsleep en lag en huil. Niemand kan genoeg kry van die geharde landskap met sy sagte hart nie. Daar is lewe oral en die kleinste plantjies en diertjies skuil in die koelte van die swart en wit klippe wat die wêreld so uniek maak.

Ons laaste aand op die oewer van die Oranjerivier is ‘n fees, hoewel die spottery van die Deposit voortduur. Ons hou konsert, ons gesels, ons kuier en peper vir Seth met nog vrae oor die mooie, dorre wêreld. Met ons laaste opgestelde foto van die Deposit langs die Oranje rivier vroëer die aand sit ons nog een keer vas, maar genadiglik het min mense dit gewitness.

Na breakfast is dit goodbye en die lang tog huis toe begin. Die gebrek aan sand guarantee weer vir die Stofsuier ‘n onberispelike rekord die Richtersveld uit. Toe ons groet by die hek, kry ons darem so bietjie erkenning van Francois. “Die Deposit was eintlik glad nie sleg nie.” Die res van die konfooi gee almal so laaste bietjie bewondering! Vir enige iemand wat net ‘n deposit het, is die tjor glad nie ‘n slegte belegging in ‘n baie capable 4×4 nie. Selfs Seth – wat net droom om eendag sy eie Toyota te besit, kom se hoe beindruk hy met die koekies en hulle Koekblik is – 2 bar bande en al!

Oppad terug Jozi toe, weer goed geMonster en geMP3 teen moegheid en verveling, gesels ons dik stukke oor ons nuwe Chinese vriend. Die ekstra band wat Jannie vir ons ingepak het lê nog ongebruik onder die ander bagasie – hy rattle darem nie op die teerpad nie en met ‘n kussing in die holte van my rug, is ek reg om sommer die hele pad terug te ry…met meer gemoedsrus en vertroue in die voertuig as wat ek mee gekom het.

“Hy’s eintlik nie ‘n lelike dingetjie nie,” se ek vir Anzet,” diep ingedagte oor die Deposit se performance die laaste paar dae. “Ja, die Koekblik groei nogals op ‘n mens,” erken sy. “Hy is regtig nie sleg nie.”

  • Vir meer inligting oor die Richtersveld of om van Seth Domrogh se dienste as gids gebruik te maak, skakel gerus 073 248 7281. Vir meer feite oor die Richtersveld, besoek gerus www.richtersveld-conservancy.org.
  • Vir ‘n lekker halfway stop Richtersveld toe, boek in by die Oude Werf Lodge. Werner sal tog te bly wees. Bel hom by 053 712 0117 of gaan loer op www.oudewerf-lodge.co.za

 

 

Grab our June issue for a full road trip article, and Anzet’s technical review of the H5!

 

No related posts.