Na wat soos ‘n ewigheid gevoel het, kon ons weer gaan kamp en het besluit om bietjie by Crodinie te gaan kamp.
Crodinie is sowat 20km van die dorp Swellendam af, in die Overberg streek van die Wes-Kaap geleë. Die kampplek is op die Kemp’s se werkende plaas en grens aan die Breederivier.
Read the English version of this review here
Crodinie is toeganklik vir alle voertuie, maar ons sal voorstel dat jy ‘n viertrekvoertuig gebruik om jou karavaan by die styl bult by die kampterrein uit te sleep. As jy andersins kom kamp met jou tent het jy geen probleem om teen die styl bult uit te kom met jou gewone voertuig nie.
Daar is nie elektrisiteit by die kamp nie, maar wel sonkrag by die ablusie en gas-geisers vir warm water. Die ablusiegeriewe is netjies en maklik toeganklik vanaf al die kampplekke. Elke staanplek het ook sy eie braaiplek, lowergroen gras en die meeste van die kampplekke het skaduwee. Ons beveel aan dat jy jou eie vars water saambring vir drink en kook as jy hier kom kamp.
Aangesien dit nog winter was, het ons besluit om kamp op te slaan op ‘n staanplek wat nie skaduwee het nie – op ‘n effense hoogte bokant die ander staanplekke. Nadat ons kamp opgeslaan het, het ons dadelik ’n vuurtjie aangesteek en uitgekyk oor die rivier en die lekkerte van die kamp waardeer. By Crodinie kan mens nie vroeg gaan slaap nie, die naguile gesels dan tog te lekker in die aand en die pragtige hemelruim en sterre is iets wat waardeer moet word.
Die volgende oggend het ons vroeg opgestaan en ons fluit-keteltjie aangesit vir ons eerste lekker kamp-koffie vir die oggend. Dit is dan ook vroegoggend wat jy die visarend se krys-roep vanaf die kranse hoor en jy weet dat jy baie na aan die natuur is. Daar is ook ‘n groot verskeidenheid van ander voëls by die kamp en die dassies baljaar en bak ook in die sonnetjie.
Na ‘n heerlike “cowboy breakfast” was dit tyd om op die rivier te gaan roei. Daar is ‘n paar kayakke by die kampterrein wat jy kan gebruik as jy kom kamp. Ons bring egter altyd ons eie kayak saam as ons gaan kamp. Ek roei altyd ‘n hele entjie op in die rivier waar ek dan ook van die wal af visvang. Daar word heelwat groot visse by Crodinie gevang, maar ek was nie hierdie keer so gelukkig om ‘n groot vis te vang nie. Toe ek besluit om terug te roei na die kampplek, het daar ‘n vis by my in die kayak ingespring…dit klink dalk na ‘n vissermanstorie – maar dit het werklik gebeur!
Terug by ons kampplek, het ek ons twee honde geneem om by die rivier te gaan baljaar. Dit is belangrik om vooraf toestemming te kry as jy jou troeteldier wil saamneem na Crodinie en dit is ook baie belangrik dat jy jou hondjie ter alle tye by jou kamp hou en op ‘n leiband is as jy hulle neem om te gaan stap.
Natuurlik was ek lekker moeg na al die oggend se aktiwiteite en het besluit om ‘n bietjie te gaan boek lees langs die rivier. Met my kampstoel in die hand en ‘n goeie boek het ek ‘n bietjie by die eiland gedeelte langs die rivier gaan ontspan. Dit is ‘n absolute saligheid om langs die rivier te sit, ‘n drankie te drink en die skape in die verte te hoor blêr. Soms vergeet ‘n mens dan van al jou sorge en selfs om jou nuwe boek te lees!
Die kampopsigter kom altyd ‘n draai maak by die kampeerders. Jy kan dan vars melk en ys koop. Die vars melk is ‘n groot lekkerte. Ons bring altyd ‘n ekstra kan vir die melk en drink ons liters melk uit oor die naweek, want varser melk gaan jy nie êrens anders kry nie.
Ongelukkig, as jy jouself geniet, gaan die tyd te gou verby en kort voor lank was die son besig om te sak en het ons weer vuurtjie aangesteek vir ‘n lekker braaivleis oor die kole en goeie samesyn om die vuur. Ons braai gewoonlik groot op ‘n Saterdagaand sodat daar lekker oorskiet is vir die volgende oggend. Ons het lekker perskewors, skaaptjops, hoender en braaibroodjies oor die kole gaargemaak. Ons maak verskillende braaibroodjies, sodat daar ‘n lekker verskeidenheid is om van te kies. My gunsteling is ‘n kombinasie van goudakaas, mozarella, tamatie en sweet chillie sous op die broodjie. En natuurlik moet daar regte botter aan beide kante van die broodjie wees om dit net nog lekkerder te maak. Na aandete, het ons ‘n lekker Malva-poeding vir nagereg in die swartpot gemaak – wat natuurlik die hoogtepunt van enige kamp is!
Na ‘n vol dag van lekker ontspan en lekker eet, het ons maar vroeg gaan inkruip sodat ons weer vroeg die Sondagoggend kon opstaan om die laaste bietjie van die kampnaweek te kan geniet.
Die Sondagoggend vroeg is ons weer vroeg wakker gemaak deur die roep van die visarend en moes ek dadelik weer vuur aansteek vir lekker koffie en een van die oorskiet braaibroodjies van die vorige aand se braai. Maar kort voor lank was dit ongelukkig tyd om weer op te pak.
Ons kamp maar altyd, maar vir besoekers wat nie wil kamp nie is daar die oulikste ingerigte karavane waarin jy kan oorslaap. Crodinie is beslis ‘n besoek werd en ‘n groot gunsteling vir oud en jonk. Ons gaan beslis weer kom kamp by Crodinie!
Look for a campsite on Lekker Kampplekke
NEUTEDOP:
TIPE AKKOMODASIE: Kampplek & Selfsorg
NAASTE DORP: Swellendam (20km)
STREEK: Overberg
PROVINSIE: Wes-Kaap
GPS: -34.160550, 20.461672
Website: https://www.lekkerkampplekke.co.za/kampplek/Crodiniee-kamp/
Tel: 066 243 4000
Text and images: Rikus Truter – Lekker Kampplekke